{{item.currency}} {{pricing}}





{{item.currency}} {{pricing}}



{{item.currency}} {{pricing}} - Out of Stock

Met die fokus op die beskerming van ons visspesies en baie hengelaars wat nou meestal vir sport hengel en hul vangste vrylaat, is dit nodig om te weet hoe om vis korrek te hanteer en die beste kans te gee om te oorleef.

'Sirkel hoeke is beter as normale J-hoeke.'

'Die vis se kiewe is die sensitiefste area op die vis.'

Haai word in die water gehou om gewig op die ingewande te verminder.

Interne anatomie van n haai.

Korrekte manier om n kabeljou vas te hou.

Swaar haai word op sy rug gedraai en op nat sand gehou.

Eetvis moet veral versigtig hanteer word omdat hulle so sensitief is vir suurstof en vinning kan vrek. Haaie is self baie gewild onder sport hengelaars, maar tog sien mens honderde fotos van haaie wat verkeerd opgetel is, wat nadelige gevolge vir die haaie het. Mens wil tog die spesie wat jy vang die beste kans op oorlewing gee sodat mens dit more weer kan vang. Ek sal in hierdie artikel meer uitbrei oor hoe om vis korrek te hanteer.

Met eetvis spesies begin die proses al wanneer jy vir die eerste keer aan die vis vat. Vis het 'n slymlaag op hulle vel wat hulle beskerm teen infeksie. Dit is dus baie belangrik om nie die vis met droë hande te hanteer nie aangesien jy daai beskermende slymlagie kan verwyder. Maak jou hande nat voor jy die vis hanteer sodat jy nie die slymlagie verwyder nie. Daarom is 'n natlap om die vis mee vas te hou nog beter. In studies is daar gevind dat vis wat van hul slymlaag verloor het, oortrek was met infeksie en baie van die vis het later aan die infeksies beswyk.

Sirkel hoeke is beter as normale J-hoeke aangesien hulle ontwerp is om die vis in die hoek van die mond te hak en minimale skade aan te rig. J-hoeke is geneig om vis baie in die kiewe te hak en geen vis sal dit oorleef nie. Indien jy 'n sporthengelaar is wat omgee oor die vrylaat van vis, gebruik eerder sirkel hoeke.

 

Spoed is belangrik

Die vis se kiewe is die sensitiefste area op die vis en enige skade aan die kiewe gaan sekerlik die vis se dood beteken. Groot kabeljou word veral aan die kiewe opgetel en beseer. Alhoewel mens hulle redelik veilig tussen die mond en kiewe kan optel, is dit beter om hulle nie op te tel indien jy van plan is om hulle vry te laat nie.

Spoed is van kardinale belang om die vis so gou as moontlik weer terug in die water te kry en so min as moontlik blootstelling te gee aan suurtof. Vir kleiner eetvis spesies is dit goed om 'n langwerpige emmer met water in by jou te hê waarin jy die vis kan hou indien daar nie 'n poeletjie naby is nie. Jy kan dan met gemak hoeke verwyder, of jou kamera en  maatband regkry sonder dat die vis op warm rotse lê of blootgestel word aan suurtof. Jy mag dalk dink dat die vis slegs vir 'n paar sekondes buite die water is en dat dit nie veel skade aanrig nie – 'wat die oog nie sien nie maak mos nie seer nie'. In 'n wetenskaplike studie het hulle vis getoets wat aan vir 'n beperkte hoeveelheid tyd buite die water gehou is. Hoe langer die vis buite die water gehou is, hoe meer het gevrek, wat normal is. Wat interssant was, is dat baie van die vis wat vir meer as 30 sekondes buite die water gehou is, sterk weggeswem het, maar later eers gevrek het. Dit is dus baie belangrik om daardie tyd so min as moontlik te hou.

Haaie kan wel langer as vis buite die water bly en is nie so sensitief nie, maar hulle is ook nie gemaak om vir lang periodes van tyd buite die water te wees nie. Die feit dat meeste van hulle swaarder is maak dat hulle ook versigtig gehanteer moet word.

Ek is nie 'n voorstander van 'n gaffel gebruik nie – die meerderheid haaie kan sonder 'n gaffel geland word. By sekere diepwater plekke kan mens nie anders nie, maar 'n gaffel is definitief nie op 'n strand nodig nie; baklei die vis vyf minute langer en land hom sonder 'n gaffel. Indien jy 'n gaffel gaan gebruik, gebruik dit asseblief korrek. Ek weet dit is partykeer moeilik in gevaarlikke hengel areas, maar neem jou tyd en maak seker. Bly heeltmal weg van die onderste helfte van die haai waar die ingewande is. Gaan vir die dorsale fin of die stert wat die minste skade sal aanrig. Steriliseer ook die gaffel se hak gereeld.

Ek sien so baie dat haaie teen die droë sand opgesleep word en vir lang periodes van tyd buite lê terwyl die hengelaar soek na sy kamera om fotos te neem. Haaie word makilik aan die stert geland, maar moet saam met die water uitgetrek word. As jy die haai teen droë sand opsleep, is daar verskriklik baie druk op die haai se sagte ruggraat en dit kan nie die gewig van die haai hou nie. Mens hoor dan 'n klap klank amper soos iemand wat sy kneukels knak. Dit is die rugwerwels wat so knak en seerkry. Dit is onnodig – die warm, droë sand skuur die haai se beskermende slymlaag ook af en veroorsaak infeksies. Die hengelaar behoort boonop die kamera naby te gehad het sodat die foto vining geneem kon word en die haai weer terug gesit kon word. As 'n haai in vlak water of op nat sand lê, kan dit nie ontsnap nie.

 

Hanteer versigtig

Baie haaie word opgetel vir fotos en dit is verkeerd. Die haai word opgetel en die gedeelte by die pektorale finne word op die hengelaar se arm of been gestut. Die hart sit net agter die keel, so wanneer jy 'n haai optel en die pektorale finne op jou arm of been stut, is al die gewig op die haai se hart en longe. Haaie het nie 'n ribbekas soos ons wat hulle ingewande beskerm nie; hulle het 'n baie sensitiewe en sagte lewer wat beskadig kan word indien jy hulle optel (sien diagram). Hulle is afhanklik van daai lewer vir flotasie.

Verbeel jou ek sit 'n band om jou maag en lig jou dan op. Dis nog erger vir haaie wat baie meer sensitiewe ingewande het as ons. Neem die foto op die sand – ons weet jy is sterk. As jy regtig so sterk is, hou die haai op deur aan die kante vas te hou en nie druk op die ingewande te plaas nie. Moet hulle ook nie aan die stert oplig nie want jy gaan die rigwerwels beseer.

Kleiner haaie soos skaamhaaie word gesien as 'n pes deur meeste hengelaars, maar elke spesie het 'n rol om te speel in die ekosisteem. Hulle is nie 'frisbees’ nie; hulle mag dalk oprol wanneer hulle gevang word, maar moet hulle asseblief nie gooi nie. Sit hulle terug met respek – dis nie sy skuld dat jy kos voor hom gesit het nie.

Maak seker jy het 'n ordentlikke hoek verwyderaar om tyd te bespaar wanneer jy die hoeke verwyder. Ek hengel al vir jare met hoeke sonder weerhakkies, ek verloor nie vis nie en die hoeke val maklik uit as my lyn breek, nie eers gepraat van hoek uithaal nie. Indien 'n hoek te diep is om veilig te verwyder of dit neem te lank, knip dan die staal so kort as moontlik af en laat die haai vry en hoop die sweer uit.

Ons hengel vir die genot van ons sport en dit is in ons belang om na ons visspesies te kyk indien ons of ons kinders nog in die toekoms nog aan ons aan sport wil deelneem.